Eksodus. Chapter 37

1 En Besáleël het die ark van akasiahout gemaak; twee en 'n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
2 En hy het dit oorgetrek met suiwer goud, van binne en van buite; en hy het daaraan 'n goue krans gemaak rondom.
3 En hy het daarvoor vier goue ringe gegiet, aan sy vier voete, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant was.
4 En hy het draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek;
5 en hy het die draaghoute in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om die ark te dra.
6 Hy het ook 'n versoendeksel van suiwer goud gemaak. Twee en 'n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte.
7 Ook het hy twee gérubs van goud gemaak. Van dryfwerk het hy hulle gemaak, aan die twee ente van die versoendeksel.
8 Een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, het hy die gérubs gemaak, aan die twee ente.
9 En die gérubs het die vlerke boontoe uitgesprei gehou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte was na mekaar toe. Die gesigte van die gérubs was op die versoendeksel gerig.
10 Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Twee el was sy lengte, en 'n el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
11 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor 'n goue krans gemaak rondom.
12 Hy het ook daarvoor 'n lys van 'n handbreed gemaak rondom; en hy het 'n goue krans vir die lys gemaak rondom.
13 Hy het ook vier goue ringe daarvoor gegiet; en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die vier pote.
14 Naby die lys was die ringe as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
15 Hy het ook die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek om die tafel te dra.
16 En hy het die gereedskap gemaak wat op die tafel moes wees: sy skottels en sy rookpanne en sy bekers en sy kanne waarmee gegiet moes word, van suiwer goud.
17 Hy het ook die kandelaar van suiwer goud gemaak. Van dryfwerk het hy die kandelaar gemaak, sy voetstuk en sy stam; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme was, daarmee saam, uit een stuk.
18 En ses arms het uit die sykante daarvan uitgegaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
19 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, 'n knop en 'n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, 'n knop en 'n blom--so was dit aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
20 Maar aan die kandelaar self was vier kelkies soos amandelblomme, met knoppe en blomme:
21 daar was 'n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan--vir die ses arms wat daaruit uitgaan.
22 Hulle knoppe en hulle arms was, daarmee saam, uit een stuk alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.
23 En hy het sewe lampe daarvoor gemaak en sy snuiters en sy bakkies van suiwer goud.
24 Van 'n talent suiwer goud het hy dit gemaak met al sy gereedskap.
25 En hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; 'n el was sy lengte en 'n el sy breedte, vierkantig, en twee el sy hoogte. Sy horings was, daarmee saam, uit een stuk.
26 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die plaat, die sykante en die horings. En hy het daarvoor 'n goue krans gemaak rondom.
27 Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die krans aan weerskante, aan die twee sykante, as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.
28 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.
29 Hy het ook die heilige salfolie gemaak en die suiwer reukwerk van speserye, soos 'n salfmenger dit maak.
1 Hy het ook die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte, vierkantig, en drie el sy hoogte.
2 En hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam, uit een stuk: en hy het dit met koper oorgetrek.
3 Hy het ook al die gereedskap van die altaar gemaak: die potte en die skoppe en die komme, die vurke en die vuurpanne. Al dié gereedskap het hy van koper gemaak.
4 Ook het hy vir die altaar 'n traliewerk gemaak, 'n netwerk van koper, onder sy lys, onderaan tot by die helfte van die altaar.
5 En hy het vier ringe aan die vier ente van die kopertraliewerk gegiet, as plekke vir die draaghoute.
6 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.
7 En hy het die draaghoute in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar, om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
8 Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.
9 Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant, na die suide toe, was daar die behangsels van die voorhof, van fyn dubbeldraad-linne, honderd el lank;
10 daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer;
11 en aan die noordekant honderd el; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
12 En aan die westekant was daar behangsels, vyftig el lank; daarby tien pilare met hulle tien voetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
13 En aan die oostekant, teen sonop, was daar vyftig el;
14 vyftien el behangsels vir die een kant, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke;
15 en vir die ander kant--aan weerskante van die poort van die voorhof--vyftien el behangsels, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke.
16 Al die behangsels van die voorhof rondom was van fyn dubbeldraad-linne;
17 en die voetstukke van die pilare was van koper, en die kramme en die ringe van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer; en hulle self, al die pilare van die voorhof, was van silwerringe voorsien.
18 En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne: twintig el was die lengte, en die hoogte--tewens die breedte van die stof--vyf el, net soos die behangsels van die voorhof.
19 Daarby vier pilare met hulle vier voetstukke van koper en hulle kramme van silwer, en die oortreksel van hulle toppe en hulle ringe van silwer.
20 En al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.
21 Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
22 En Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die HERE Moses beveel het.
23 En saam met hom Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan, 'n ambagsman en kunstenaar en kunswewer in pers en in purperrooi en in bloedrooi stowwe en in fyn linne.
24 Al die goud wat vir die werk gebruik is, by al die werk van die heiligdom--die goud wat as offer aangebied was, het bedra nege en twintig talente en sewe honderd en dertig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.
25 En die silwer van die geteldes van die vergadering was honderd talente en duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom;
26 'n beka vir elke persoon, dit is 'n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man.
27 En die honderd talente silwer het gedien om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel te giet; honderd voetstukke vir honderd talente, 'n talent vir 'n voetstuk.
28 Maar van die duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels het hy kramme vir die pilare gemaak, en hy het hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.
29 En die koper wat as offer aangebied was, het bedra sewentig talente en twee duisend vier honderd sikkels.