Jesaja. Chapter 64

1 Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig
2 --soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel--om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe
3 wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie--as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig!
4 Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.
5 U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie lank, en--sal ons verlos word?
6 En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
7 En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede.
8 Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.
9 HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is.
10 U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis.
11 Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword.
12 HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?