Psalms. Chapter 56

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: Die Duif van die ver Terebinte. Van Dawid. 'n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat.
2 Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag.
3 My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed.
4 Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
5 Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
6 Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen.
7 Hulle val aan, lê en loer- hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het.
8 Ondanks hul ongeregtigheid- sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God!
9 U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
10 Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.
11 Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys.
12 Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan 'n mens my doen?
13 Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal;
14 want U het my siel gered van die dood- ja, my voete van struikeling- om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.