Psalms. Chapter 5

1 Vir die musiekleier; met fluite. 'n Psalm van Dawid.
2 o HERE, luister na my woorde, let op my versugting.
3 Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.
4 In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.
5 Want U is nie 'n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.
6 Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid.
7 U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE 'n afsku.
8 Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees.
9 HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg.
10 Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is 'n oop graf; hulle maak hul tong glad.
11 Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U.
12 Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.
13 Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met 'n skild.