Psalms. Chapter 75

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: Moenie verwoes nie. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.
2 Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders.
3 As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig.
4 Al wankel die aarde en al sy bewoners- Ék het sy pilare vasgestel. Sela.
5 Ek sê tot die onsinniges: Wees nie onsinnig nie! en tot die goddelose: Verhef die horing nie!
6 Verhef julle horing nie daarbo en spreek nie met trots uitgerekte nek nie.
7 Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie....
8 maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander.
9 Want in die hand van die HERE is 'n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink.
10 Maar ék sal vir ewig verkondig- ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob.
11 En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend breek; die horings van die regverdige sal verhef word.