Psalms. Chapter 39

1 Vir die musiekleier; vir Jedútun. 'n Psalm van Dawid.
2 Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is.
3 Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker.
4 My hart het warm geword in my binneste; 'n vuur het ontvlam by my gesug; ek het gespreek met my tong:
5 HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is.
6 Kyk, U het my dae 'n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela.
7 Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.
8 En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U.
9 Red my van al my oortredinge; maak my nie 'n smaad van die dwaas nie.
10 Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.
11 Neem u plaag van my weg; ek vergaan vanweë die bestryding van u hand.
12 Tugtig U die mens met strawwe oor die ongeregtigheid, dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur 'n mot; ja, elke mens is 'n asemtog! Sela.
13 Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is 'n vreemdeling by U, 'n bywoner soos al my vaders.
14 Wend u oog van my af, dat ek vrolik kan word voordat ek heengaan en daar nie meer is nie.